1997

56 eisers dien ’n grondeis in by die Grondeiskommissie in 1997. Met die hulp van die Surplus People’s Project kry voormalige Ouklowers al die nodige dokumentasie om te bewys dat hulle eens op ’n tyd in Riebeek-Kasteel gewoon het.

In plaas van om aansoek te doen vir die herbesit van hul vorige eiendom, wou die eisers geldelike vergoeding gehad het, sowel as die bewys van eiendom van die munispale huise in Esterhof, waar hulle sedert 1965 gewoon het.

Baie Ouklowers was moeg om ontwortel te word en het vrede gemaak met waar hulle woon.

Die Malmesbury munisipaliteit het egter aangevoer dat die meerderheid van die inwoners agter was met hulle betalings vir erfbelasting en dienslewering, en dat die bewys van eiendomsbesit slegs oorhandig sou word wanneer die skuld afbetaal is

Baie inwoners onthou hoe die Dorpsbestuur gesê het hulle sou eiendomsreg in Esterhof na tien jaar kry. Dit het egter nooit gebeur nie.

Die Kommissie het met die munisipaliteit saamgestem dat die geldelike vergoeding gebruik sou word om agterstallige skuld te delg en dan eiendomsreg te gee.

Die finale vergoeding was R980 000, wat tussen die 56 eiers verdeel is. Op die ou end het elke gesin R17 500 gekry.

Vir die meeste Ouklowers is hierdie vergoeding te min in vergelyking met die aansienlike hoër waarde van Oukloof se grond vandag.

Krisjan Daffnee onthou hy was nie tevrede met die bedrag wat aangebied is nie, maar dit was Desember en almal was desperaat om liewer iets as niks te kry nie.

Die bedrag van R17 500 is in 2000 aan die 56 eisers betaal. Alle uitstaande munisipale skuld moes betaal word voordat hulle eiendomsreg kon bekom.

Verwysing:
https://pmg.org.za/committee-meeting/346/