1966 (Deel 1)

Die grond waarop die nuwe kleurlingwoonbuurt gebou is, word amptelik van die NG Kerk aan die Dorpsbestuur oorgedra. Die kleurlinggemeenskap woon nou reeds vir ’n jaar hier. Die grond is op hierdie stadium gewaardeer vir R3500.

Volgens die onderhoude met die Ouklowers is daar oorspronklik tydens die vergaderings aan hulle gesê dat hulle die huise gratis sou kry, maar nadat hulle ingetrek het, moes hulle hoë huurinkomstes betaal het, afhangende van hoe groot die huis was. Baie van die inwoners het op die ou end na Riebeek-Wes of Hermon toe getrek.
Erf 333, ook bekend as die ou lokasie, is opgedeel in kleiner erwe en voorberei om deur die NG Kerk verkoop te word.

Nadat die kleurlinggemeenskap na Esterhof toe verskuif is, het kerkdienste by die kleurlingskool plaasgevind. Die Sendingkerk op die heuwel in Oukloof het leeggestaan.

Volgens kerkraadsnotules het die sendingkerkraadslede dit bespreek om die sendingkerkeiendom in Oukloof te verkoop en was bekommerd dat dit in die hande van die Moederkerk sou val. Hulle het geld nodig gehad om ’n nuwe kerk in Esterhof te bou. Hulle het op ’n prys tussen R2000 en R3000 besluit, en toe gesê dat R2260 die minimum moet wees. ’n Waardasie het die eiendom as R3120 geprys. Totdat die verkoop kon plaasvind moes daar na die sendingkerkeiendom omgesien word. Een van die potensiële kopers was die Ontwikkelingsraad, maar hulle was nie verplig om dit te koop nie.

Teen 1966 is al die huise in Oukloof gesloop en die grond is gelykgemaak. Die huise in die ou lokasie is ook gesloop en die erwe is te koop aangebied, vir wit eienaars. Alhoewel die kleurlinginwoners nooit vergoeding vir hul huise ontvang het nie, onthou hulle dat die boere wat huise vir hul werkers gebou het, wel vergoeding ontvang het.

Verwysings:
Surplus People’s Project land claim 1997
Cape Town Archive Repository: KUS1/82 5/2/1/F304
NG Sendingkerknotules
NGK Argief: GEM-K2803