1965

Die provinsiale administrasie keur op 6 Januarie die vestiging van ’n nuwe kleurlinggebied op erf 376 wat aan die anderkant van die spoorlyn geleë is (Uitbreiding 2) goed.

Daar is bittermin dokumentasie beskikbaar oor die vestiging van die nuwe kleurlingwoongebied of oor die verskuiwing van Oukloof na die nuwe woonbuurt. Die enigste bevestiging dat die verskuiwing in September 1965 gebeur het kom van die Ouklowers se onderhouder. Daar is geen argiefrekords of kerknotules beskikbaar oor hoe die gedwonge verskuiwing plaasgevind het nie. Daar is ook nie dokumente oor hoe die nuwe behuisingskema ontwikkel is nie, maar dit is wel bekend dat die huise in fases ontwikkel is en dat die groter huise voor die kleiner huise gebou is.

Die Dorpsbestuur het ’n lys gemaak en huise is toegeken aan gesinne volgens die hoeveelheid kinders hulle gehad het.

Sophia Smith onthou hoe sy haar naam opgegee het vir ’n 3-vertrekhuis omdat haar skoonma saam met hulle gewoon het, maar Andries Smit van die Dorpsbestuur het gesê sy kon slegs ’n 2-vertrekhuis kry.

Dit is onbekend hoe lank inwoners gegee is om te trek nadat hulle huise gereed was, maar baie onthou hoe hulle op die dag meegedeel is dat hul huis reg was en somtyds gedurende die nag moes trek omdat hulle gedurende die dag gewerk het. Diegene wat geweier het om uit Oukloof getrek is gedreig dat as hulle nie teen die volgende dag uit is nie, hulle huise bo-op hulle platgestoot sou word, met die meubels nog binne.

Sommige Ouklowers het solank as moontlik teëgesit, maar op die ou end was hulle almal uit hul huise verwyder.

Daar was ook aan hulle gesê dat hulle nie diere mag aanhou nie en hulle moes hulle bokke, koeie, hoenders en donkies aan die boere verkoop.

Die nuwe kleurlingwoonbuurt is Esterhof genoem, vernoem na Mnr Esterhuysen, die hoof van die Dorpsbestuur wat ’n groot rol in die vestiging van die nuwe woonbuurt gespeel het.

Verwysings:
Surplus People’s Project land claim 1997
Onderhoude met Ouklowers