1961
Riebeek-Kasteel word op 23 Desember as ’n blanke woongebied verklaar (Prokl. 152 van 1961) en dit word in die plaaslike Swartland koerant aangekondig.
“Die hele munisipale gebied geleë ten weste van die spoorweg en die pad na Gouda [word] as ’n Blanke groepsgebied geproklameer.
Die Gekleurde groepsgebied is in die suidoostelike hoek van die munisipale gebied geleë. Dis beslaan gedeelte van die grond ten ooste van die spoorweg en die pad na Gouda en strek tot teenaan die munisipale grens.
Die bepalings van die Wet op die Ontwikkeling van Groepsgebiede is op albei die groepsgebiede van toepassing gemaak. Ingevolge hiervan is die Groepgebiede-ontwikkelingsraad verantwoordelik vir die behandeling van geaffekteerde eiendom, dit is eiendom wat behoort aan of geokkupeer word deur persone wat lede is van ander groepe as dié vir wie die betrokke gebied geproklameer is. Die Minister stel onafhanklike waardeerders aan om die waarde van hierdie eiendomme te bepaal. Die eienaars kry kennis van die waardasies, en as hulle ontevrede is, kan hulle beswaar aanteken by die Groepsgebiede-ontwikkelingsraad wat die besware aan die waardeerders voorlê…
Die Groepsgebiede-ontwikkelingsraad sal die verkopers van geaffekteerde eiendom vergoed teen ’n koers van 80%…
Dit is die funksie van die plaaslike bestuur om met behulp van die Nasionale Behuisingskommissie en, indien nodig, die Groepsgebiede-ontwikkelingsraad, die betrokke Gekleurde gebied te beplan en die nodige dienste daar aan te lê. Dit is ook hierdie liggaam wat huisvesting moet voorsien aan almal wat dit nie self kan onderneem nie…
Persone wat onbevoegdes is in enige van die groepsgebiede as gevolg van die proklamasie word nie verplig om die gebiede te ontruim alvorens die Minister hulle kennis gegee het om te ontruim nie. Sodanige kennisgewing sal nie vroeër as een jaar na die datum van proklamasie van krag wees nie, en daar sal minstens drie maande kennis gegee word vir die ontruiming van wonings.”
[Die minister waarna verwys word, is PW Botha, in ’n nuwe onafhanklike departement van Kleurlingsake.]
Verwysings:
Cape Town Archive Repository: CDC 597 G7/493/1