1959

In Julie 1959 stel Mnr Jacobus Johannes Esterhuysen, die skoolhoof van die wit laerskool in Riebeek-Kasteel en die nuwe voorsitter van die Dorpsraad, voor aan die Kerkraad dat die Kerk grond skenk vir ‘n nuwe kleurlingwoongebied.

“Broer JJ Esterhuysen dra voor namens die Dorpsbestuur, die noodsaaklikheid vir die daarstelling van ’n aparte woonbuurt vir [die] Kleurlinggemeenskap, asook dat die saak speodeisend is. As gevolg van bykomende laste op die Dorpsuitgawes soos byvoorbeeld die waterskema en ’n teerstraat voor die Kerk, skoolkoshuis in die vooruitsig, vind die Dorpsbestuur dit moeilik [om] die nodige grond van die Kerkraad te koop, en doen ’n vriendelike beroep op die Kerkrad om indien moontlik die grond gratis te skenk aan [die] Dorpsbestuur vir die doel.”

Die dringendheid van die verskuiwing van die kleurlinggemeenskap uit die dorp uit begin meer en meer algemeen raak soos gesien in die notules van die kerkraadvergaderings. Twee verteenwoordigers van die Groepsgebiederaad kom om die voorgestelde grond te inspekteer en ’n opvolgende verslag deur die komitee ondersteun die Dorpsbestuur se voorstel om grond naby die kleurlingskool te ontwikkel as die nuwe kleurlingarea. Al die ander opsies word afgekeur.

  • Die terrein wat deur Mnr Pretorius (vorige inspekteur) in sy verslag as moontlike Kleurlinggebied aanbeveel het is nie meer te koop nie. Dit was te naby aan die blanke skool en te ver van die bestaande kleurlikngskool.
  • Die grond wat die Dorpsbestuur wou koop was te waardevol want graan was daar verbou.
  • ’n Nuwe stuk grond is voorgestel, naby die nat area maar waar tabak geplant word. Mnr Esterhuysen stel voor dat die Kerk die grond gratis skenk.
  • Alhoewel die area nog steeds ver uit die dorp is, byna twee myl, die inspekteur dink nie dis ’n probleem nie want kleurlinge in stede bly baie verder weg en kan nie publieke transport bekostig nie, maar kom tog by hul werk uit.
  • Die nabygeleë kelders is ook nie ’n probleem nie. Blykbaar was dit slegs mense wat ’n geldelike belang gehad het wat daaroor gekla het.
  • Die treinspoor maak dit maklik op op die trein te klim vir ’n “fuifparty” in Hermon.(spoorlyn hermon)
  • Volgens Mnr Esterhuysen het geen tabakboer nog gekla oor die reuk van die kelder se moerwater nie.

Die Dorpsbestuur het ’n belang gehad om ’n stuk waardelose grond vir die kleurlingbehuisingskema te bekom. Om sy voorstel te verstewig, het Mnr Esterhuysen aangebied dat die Kerk die helfte van die geld van elke erf wat aan die kleurlinge verkoop word sal ontvang, mits hulle die grond skenk. Die Kerk aanvaar die voorstel.

Verwysing:
NGK Argief: GEM-K 2796
Cape Town Records: KUS 288 85/5/260