1953 (Deel 2)
Deur die jare is Tuberkulose (tering) as ’n groot bekommernis beskou, veral in die baie gesondheidsverslae aangaande die lokasie waar die kleurlinggemeenskap bly.
Die Dorpsbestuur besluit om ’n klein gebou (‘n houthut) op te rig waar kleurlinge in kwarantyn geplaas kan word en in isolasie behandeling ontvang, maar steeds is daar geen kleurlingverpleegster aangestel om hierdie rol te vervul nie.
Verskeie Ouklowers het in onderhoude van hierdie hut vertel, wat onder dennebome opgerig is op dieselfde erf as die Sendingkerk. Kleurlinge was hier in kwarantyn vir die hele tydperk van hul siekte en sommige het dit nie lewend verlaat nie. Oom Wil vertel hoe niemand naby die hut toegelaat is nie, maar die onderwysers het dikwels skoolkinders gestuur met kos vir die pasiënte.
Verwysing:
Cape Town Records Centre: SGD 163 1/4/124