Historiese Tydlyn
1951 tot 1953
Om ’n chronologiese oorsig van die geskiedenis van Oukloof en sommige van die gebeure wat na die gedwonge verskuiwing en vestiging van Esterhof gelei het te besigtig, rol asseblief deur die tydlyn onder. Argiefdokumente is voorsien om tot Oukloof se verhaal by te dra.
Tien jaar nadat die oorspronklike besprekings rakende ’n formele behuisingskema vir Oukloof begin is, is daar nog geen vordering gemaak nie. Die Dorpsbestuur begin nou ondersoek instel om die gemeenskap na ’n totaal nuwe area te verskuif.
In ’n brief aan die Gesondheidsdepartement skryf die Dorpsbestuur dat twee kleurlinge aan Tuberkulose (tering) gesterf het.
Elektrisiteit arriveer in Riebeek-Kasteel, maar in die kleurlinggemeenskap is dit net die sendingkerk en die kleurling skoolhoof se huis wat op die lys is vir elektrisiteit. Oukloof bly donker.
Die Dorpsbestuur begin samesprekings met die Adviesraad vir Grondbesit om ’n aparte woonbuurt te verkry met die doel om ’n behuisingskema te bou in ‘n nuwe kleurlingwoonbuurt.
Deur die jare is Tuberkulose (tering) as ’n groot bekommernis beskou, veral in die baie gesondheidsverslae aangaande die lokasie waar die kleurlinggemeenskap bly.