1938
’n Gesondheidsinspeksie deur die Departement van Volksgesondheid verskaf die eerste gedokumenteerde indruk van Oukloof.
Dorpsbevolking: 550
Blankes: 350
Nie-blankes: 200
Lokasie: 60 woonhuise
Daar is 60 woonhuise in die lokasie en die bevolking is omtrent 200. Die grond behoort aan die Kerk en die inwoners betaal ’n huur van £1 per jaar en bou hulle eie huise. Die ou gedeelte van die lokasie wat teen die bult geleë is, bevat party bouvallige wonings, sommige waarvan vir menslike bewoning ongeskik is. Dié gedeelte van die lokasie word nou, egter, gaandeweg by geleentheid ontruim en die inwoners word na die nuwer gedeelte van die lokasie [Oukloof] verder af teen die helling verplaas. In dié gedeelte verskil die huise baie van mekaar, maar oor die algemeen is hulle van redelike gehalte. Hulle is van baksteen gebou met sinkdakke en grondvloere. Die lokasie word voorsien van water van die Dorpsraad se voorraad. Daar is ’n tenk met ‘n kraan by die ingang van die lokasie.
Geen suiwel word in die dorp verskaf nie, so baie inwoners hou bokke of koeie aan vir melk. Daar is geen voorsiening vir sanitêre geriewe nie, maar sommige van die inwoners het hulle eie gemakshuisies gebou. Hierdie mense behandel hulle eie nagvuil. Die Gesondheidsdepartement beveel ’n dubbel-emmerstelsel aan vir die lokasie om nagvuil te verwyder.
Dit is belangrik om op te let dat daar nêrens in Riebeek-Kasteel sanitêre geriewe was nie. Nagvuil is nooit verwyder nie en dit het vir lank so in Oukloof gebly, ten spyte van die gesondheidsbeamptes se bevele aan die Dorpsbestuur, wat verantwoordelik was hiervoor, om iets aan die saak te doen.
Verwysing:
Cape Town Record Centre: SGD 163 4/4124