1919
’n Welgestelde boer, George J Euvrard Snr (1865 – 1932), bied aan om ‘n deel van sy plaas aan die NG Kerk te skenk vir die stigting van ‘n kleurling sendingstasie, sodat wit en bruin leefareas in Riebeek-Kasteel geskei kan word.
Die stigting van ’n sentrale lokasie vir kleurlinge het gebeur na ’n reeks van klagtes van witmense in 1916, wat gekla het omdat hulle ’n gemeenskaplike wasarea met kleurlinge moes deel en grond wou koop wat deur kleurlinge bewoon is.
Die ooreenkoms was dat die NG Kerk verantwoordelik sou wees vir die administrasie van die lokasie volgens die volgende maatreëls:
- Totale skeiding van wit en bruin, sodat geen wit persoon in die nuwe lokasie mag bly nie, en geen kleurling mag in die toekoms in die dorp of ou lokasie bly of grond besit nie.
- Witmense mag in die nuwe lokasie grond besit, maar mag nie daar bly nie.
- Witmense mag in die lokasie grond besit, maar nie kleurlinge nie.
- Kleurlinge sal toegelaat word om ’n stuk grond in die nuwe lokasie te beset, op voorwaarde dat hulle self daar woon.
- Geen strooi- of sinkhuise mag gebou word nie. Bouplanne moet aan die landkommissie voorgelê word.
- Die landkommissie sal die grond opmeet en elke stuk omhein.
Die Sendingkerk was vanaf sy stigting deur die wit NG Kerk bestuur en die kerkraadslede wat die besluite gemaak het, was hoofsaaklik wit. Volgens 1921 notules van die Sendingkerk is dit duidelik hoekom daar besluit is dat kleurlinge nie grond in Oukloof mag besit nie:
“Met die bespreking blyk dit dat verskeie lede meer ten gunste is van die lokasie op die grond wat deur Broer Euvrard vir daardie doel gegee is, op voorwaarde deur die Kommissie aangeveel om die erwe te verhuur in plaas van om dit te verkooop sodat die Kerkraad later tot ‘n verplasing sou kon besluit as dit blyk dat dit noodsaaklik is. Diaken van der Merwe wys op die onbillikheid van die bepaling dat die erwe alleen verkrygbaar sal wees aan dorpsbewoners en gee kennis dat hy op die volgende vergadering sal voorstel om die bepaling in hersiening te bring.”
Verwysings:
VGK Argief
Surplus People’s Project Oukloof land claim of 1997