Die Begin

Oukloof Legacy het sy wortels in ’n groeiende bewuswording van plaaslike aktivisme na Suid-Afrika se 2016 plaaslike verkiesings. In hierdie tyd is die nasionale politiese atmosfeer gedomineer deur binnegevegte tussen prominente persone, wat min gedoen het om die behoeftes van plaaslike gemeenskappe aan te spreek. Die groot partye se verkiesingsveldtogte het gelei tot ’n teleurstellende opkoms van kiesers by die stembus, en deur die Suid-Afrika het daar ’n gevoel van frustrasie met die politiese elite geheers.

Dit was nie veel anders in die Riebeek-vallei nie. ’n Aantal inwoners het betrokke geraak om plaaslike strukture te hernu, soos die wykskomitee en die Gemeenskapspolisie-forum (CPF). Pogings om verskeie gemeenskapsprobleme aan te spreek is gemaak, en gesprekke en dialoog het op sosiale media begin.

Een van die strukture wat dit moontlik gemaak het om die kommunikasiegaping tussen Riebeek-Kasteel en Esterhof te oorbrug, wat fisies deur die spoorlyn bepaal word, is die wykskomitee. Die wykskomitee se hoofdoel is om as ’n adviesraad vir die wyksraadslid op te tree, en om kommunikasie tussen die publiek en die munisipaliteit te bewerkstellig. Na die 2016 plaaslike verkiesing is raadslid Desiree Bess, ’n inwoner van Esterhof, verkies om Wyk 12 te verteenwoordig. Die grootste kiesersopkoms in menslike geheue tydens die Swartlandmunisipaliteit se wykskomitee-verkiesing het verseker dat die meerderheid van die wykskomiteelede ’n sterk mandaat het om namens die publiek te praat.

Verskeie twispunte is van die begin af aangespreek, met gemengde resultate, en dit het spoedig duidelik geword dat daar ’n groot gebrek aan vertroue tussen die gemeenskappe is. Voormalige paralimpiese atleet en komiteelid, Jan Nero, was die eerste om op 21 Februarie 2017 die onaanvaarbaarheid van die naam Esterhof aan te spreek. Meeste van die wykskomiteelede was egter nuwe aankomelinge in die vallei, en was nie bewus van die redes waarom Esterhof apart is nie. Nadat daar verskeie verwysings in opeenvolgende vergaderings na die naam Esterhof gemaak is, met min geleentheid om die agtergrond te verduidelik, is daar op 25 April 2017 besluit dat die komiteelede die dorp se geskiedenis moet navors om die probleem aan te spreek.

Gedurende hierdie tyd is navorsing oor die naam “Oukloof” gedoen nadat daar teenstrydige besonderhede deur verskeie bronne oor die voormalige kleurlingwoonbuurt vertel is. Om betroubare inligting oor Oukloof te bekom was verbasend moeilik, siende dat dit tot betreklik onlangs nog bestaan het. Die ontdekking van Anna Bohlin se navorsing (sien skakel), was ’n openbaring.

Die Oukloof Belangegroep is gou gestig, bestaande uit drie voormalige Ouklowers om die proses te lei, ’n klein groepie besorgde inwoners en ’n plaaslike historikus. Die dienste van ’n professionele joernalis en haar span navorsers is gebruik na vrygewige befondsing deur ’n plaaslike inwoner.

Die Oukloof Erfenisprojek is op 14 Januarie 2018 geloods (Die Courant, 24 Januarie 2018) tydens ’n vergadering met van die Ouklowers wat nog lewe.

Die Oukloof Erfenisprojek is sedertdien hernoem na “Oukloof Legacy”, om weg te beweeg van ’n projek na ’n aaneelopende proses.