Die Manuel-Familie
Plot 48
Vader: | Charles Manuel - leef nog - 84 (2018) |
Moeder: | Sophia Manuel (néeCeaser) - oorlede |
Het 4 kinders gehad: | *Petrus Manuel Maria Lourens (née Manuel) Shirley Williams (née Manuel) Derrick Manuel |
Sophia Manuel was die dogter van Piet Ceaser. Toe sy met Charles Manuel getrou is, het Oom Piet Ceaser vir hulle ’n stuk grond gegee om ’n huis op te bou. Petrus Manuel is hulle oudste lewende kind. |
Uittreksel uit Petrus Manuel se onderhoud:
My pa is Charles Manuel en my ma was Sophia Manuel, gebore Ceaser. Ek is die oudste van die Manuel-kinders. My pa leef nog en word 84 hierdie jaar. Sy gesondheid is OK, maar sy ouderdom is besig om hom in te haal.
My pa kom van Ceres. My ma het vir die Malan-familie op Allesverloren gewerk, en hulle het altyd tydens vakansies in Ceres gaan kamp. Dis waar my ouers ontmoet het. Sy pa het ook met hout gewerk, so toe my pa hier kom bly het, het hy my Oupa Piet Ceaser met sy houtkontrakte gehelp. Na ’n ruk het hy by Riebeek Kelders gaan werk, en later word hy toe wat ons noem ’n “koppie”, iemand wat na gevangenisse kyk.
Ons het op die hoek van Roos- en Kloofstraat gebly. Daar is nou ’n dokter se huis oorkant die pad, maar in daardie jare was daar net ’n stuk veld en ’n reservoir waar ons water gekry het. Jacob Junies het langs ons gebly. Oupa Piet het die huis by Mnr Dawid Goedeman gekoop. Ons het hom as Goeiman geken. Dit was ’n groot stuk erf. My pa het ’n tuin gehad en met varke en ’n koei geboer. Ons het nie baie geld gehad nie, maar ons tuin en diere het vir ons op baie maniere gesorg. Maar toe ons hiernatoe getrek het, het al daai gestop.
Ek was vyf jaar oud toe ek na die Meiring Laerskool toe is. In daardie dae was dit nog Meiring NGK Laer. Dit was steeds ’n sendingskool van die NG Kerk. Ek het net tot standerd vyf skoolgegaan en moes toe gaan werk. My pa het slegs R40 per week verdien. As ons hoërskool toe wou gaan, dan moes ons Malmesbury toe gaan envir losies betaal. My suster Maria kon hoërskool toe gaan en sy’t later ’n onderwyseres geword. Ek het gaan werk om te help om geld in die huis te verdien. In die winter het my pa nie eintlikk gewerk nie. Die bakkie het nie gekom om mense te kom haal nie.
Om in Oukloof groot te word was ongelooflike tye. Ons was naby die dorp. Ons kon vinnig winkel of slaghuis toe gaan. Ons het die geld ’n tiekie, ’n sikspens, ’n daalder en ’n kroon genoem.
Somtyds het ons by die dam bokant Oukloof gespeel. Ek kon nie swem nie, maar dit het my nie gepla nie. Daar was altyd ander seuns wat by opgehou het.
Ons was ’n groep seuns wat altyd bymekaar was en saam kattekwaad aangevang het. Dit was die Junies en Claasen seuns wat rondom ons gebly het. Ons het wat ons noem kiskarre van hout en draad gebou met wiele voor en agter en ’n boks in die middel. Dan vat ons dit bo na die heuwel toe by die kerk en ry dan al die pad af in Kloofstraat. Teen die tyd wat ons onder kom, was ons vel stukkend geval. In daardie dae was Kloofstraat net ’n grondpad en baie styl, so dit was baie gevaarlik. As ons onder kom, moes ons draai voordat ons by Hermanweg uitkom, wat geteer was. Baie van ons het die kar dan omgetip en ons vel het afgeskraap.
Ons is in ’n streng en godsdienstige huis grootgemaak. Ons behoort aan die Ou Apostoliese Kerk. Later het my pa ’n pastoor in die kerk geword. In ons huis was God baie deel van ons lewe en ons lewe het gedraai om die Kerk soos dit vandag nog doen. In die ou dae het die NG Kerk die Ou Apostoliese Kerk ’n sekte genoem. Ons kon nie grond kry vir ’n kerk hier in Riebeek-Kasteel nie, so ons moes na Riebeek-Wes toe gaan vir dienste. Op Sondae moes ons in die oggend en in die aand soontoe loop. Die Meiring NGK Laerskool het toe aan die Sendingkerk behoort, so as almal R6.50 betaal het vir hulle boeke, moes ons wat aan die Ou Apostoliese Kerk behoort het R12 betaal.
Ek was omtrent agt jaar oud toe ons moes trek. Ek is dikwels terug om te kyk hoe hulle die huise sloop. Meeste van die mense het toe al getrek, maar Oom Lukas Lameyer en nog ’n gesin het geweier om te trek. Een dag het ons gaan kyk hoe hulle met die Caterpillar stootskrapers kom, wat hulle gebruik om damme mee te bou. Hulle het weerskante van die huis gestaan, met ’n dik kabel rondom. Oom Lukas en sy gesin het steeds in die huis gebly toe die stootskrapers kom. Hulle het na die kante van die huis gery en die huis met ’n kabel gesloop. Oom Lukas het net gestaan en kyk hoe die huis omval op sy meubels.
Die hele plek het gelyk of daar ’n aardbewing was. Al die huise was vernietig. Sommige mure het nog gestaan. Vir my as kind was dit moeilik om te aanvaar en te kyk hoe die mense uit hul huise gesit it. Dit was baie hartseer om te sien.
Toe die oumense hier ondertoe trek, kon jy sien hoe dinge verander. Die spontaneïteit wat hulle eens gehad het was weg.
Ek voel teleurgesteld wanneer ek terugkyk en dink wat wat met ons gebeur het. As bruinmense is ons deur dit benadeel. Wat ons daar gehad het, het ons nie hier gekry nie. Die diere en tuine wat ’n ekstra inkomste gebied het, was nie hier toegelaat nie. Die erwe was te klein om iets op te groei. In daardie dae is ons min betaal in terme van ’n salaris. Ons het van die hand na die mond geleef.
Vandag as ek in Hermonweg ry, so ek in die dorp inkom, dan kyk ek na die area waar die wingerd nou is en wonder hoe ons so geleef het as ons daar kon gebly het. Ek het aanvaar dat wat gebeur het het gebeur, maar ek kan nie help om te dink hoe ryk die boere is van daardie grong nie. Hulle het die grond, maar ons sit hier. Ons het nêrens vordering gemaak nie. Ek kan nie sê my lewe is weggevat nie, maar enige iets wat ek kon bereik het van daardie area is my nie toegelaat nie. Ek sê altyd vir my vrou, eendag as ons aftree dan koop ek die dokter se huis wat uitkyk op waar ons gebly het. Maar ons het reeds afgetree en sal dit nooit kan bekostig nie.
Ek wil net erkenning hê vir wat met ons gebeur het. In die museum is daar niks oor ons mense nie. Dis net oor die witmense. Ons word nie eers genoem nie. Daar’s niks waarna ons kinders kan gaan kyk en sê, ons ouers kom hiervandaan. Ons is net van die tafel afgevee, soos broodkrummels.
My oupa het altyd gesê, my erfporsie sit in Oukloof. Die eiendom wat hy vir my ouers gekoop het. En daarvoor voel ek hartseer.
Somtyds vat ek my kleinkinders op met Klooftraat, dan staan ons daar en kyk. Ek wys vir hulle waar ons gespeel het en waar ons huis was. Daardie herinneringe sal my nooit verlaat nie.