Die Lameyer-familie

Plot 5

Moeder:
Lea Lameyer (née Markus)
Vader:Adonis Lameyer
Het 5 kinders gehad:Minnie Kok (née Lameyer) - oorlede
Lea Lameyer - oorlede
Christina Lameyer - oorlede
Adonis Lameyer - oorlede
*Jurie Lameyer - leef nog
Oupa aan moederskant: Oupa Moos Markus - het in Oukloof gebly
Die Lameyer-familie was een van die grootste families in Oukloof, met verskeie familie-lede wat in die gemeenskap gebly het.
Juri Lameyer:

Ouderdom 63 – gebore in 1955
10 jaar oud toe sy gesin uit Oukloof verskuif is.

Uittreksel uit Juri Lameyer se onderhoud:

Die Lameyer-familie was nogals ’n groot familie in die Oukloof. Dit was waarskynlik die grootste familie in Oukloof. Ek het ’n klomp tannies en ooms gehad wat daar gebly het.

Ek is die jongste in ons gesin. Ons was ’n groot gesin, maar baie van die kinders is jonk dood. My ma het Paarl toe gegaan om aan my geboorte te skenk, maar ek het in Oukloof grootgeword.

Ons het in Bosstraat in Oukloof gebly. Dit was die laaste straat langs die bos aan die einde van die dorp, en dit het al die pad geloop van Hermonweg tot by die dam. Ons kon langs ’n paadjie na Kloofstraat stap, dan oor die bult tot by die kerk en dan was ons in die dorp.

My pa was in die boubedryf en het op die plase gewerk. Hy’s nou nog bekend in die area, selfs tot in Moorreesburg. Hy het gehelp om die witmense se kerktoring in die dorp te bou. Daar is ’n boer van Moorreesburg wat altyd na my pa gevra het as hy in die omtrek was.

Ons het twee huise op ons erf gehad. My pa het ons huis met kleistene wat met kalk gemeng was gebou. Die kalk het die stene hard gemaak. Ons huis het drie slaapkamers gehad, ’n groot sitkamer wat ons die voorkamer genoem het, en ’n kombuis waar ons kos gemaak het. Aangesien my pa in die boubedryf was, het hy geweet wat hy doen. Ons het ’n groot stoep gehad waar ons in die somer kon gesit het. Die dak was hoog en ons het al ons bokse in die plafon gestoor. As jy by die ou sendingkerk gestaan het en oor Oukloof gekyk het, was ons huis hoër as al die ander oor die hoë dak. As ons as kinders stout was, het ek op die solder gaan wegkruip. Dan kon die mense my nie kry nie. Iemand sou sê: “Dalk is hy in die solder.” Dan sou iemand anders sê: “maar dis te hoog, hoe sou hy daar kom?” In die tussentyd sit ek tjoepstil daar en wag dat hulle klaar soek.

Ons het nie elektrisiteit gehad nie, maar as dit volmaan was, was die hele area deur die maan belig. In die somernagte het almal op hulle stoepe gesit. Ons het ’n grasperk langs die sloot gehad waar ons as kinders gespeel het. As jy langs die sloot afgekyk het, het al die kinders op die gras gespeel.

Agter ons huis was bloekombome. Dit was net ’n dik bos van bome en bosse. Wanneer die gevangenisse uit Riebeek-Wes se tronk ontsnap het, het hulle in die bos kom wegkruip. As kinders het ons dikwels in die bos gespeel en dis waar ons hulle sien wegkruip het. Somtyds wanneer ek uit die skool gekom het, het hulle my geroep, en dan moes ek goed vir hulle by die winkels gaan koop het. Hulle het ons geld in ruil belowe, maar nooit iets gegee nie. Ek het een keer selfs ’n moordenaar daar teegekom. Hulle het nooit moeilikheid in die Oukloofgemeenskap veroorsaak nie, maar een nag het ons een van hulle in ons hok gevang. Dit was mal soos hulle hom gegryp het en vasgedruk het tot die polisie gekom het. Die polisie het dikwels daar rondgery op soek na hulle. Hulle het selfs van ons groot kinders in die vangwa gelaai om te help soek, maar ons het hulle nooit vertel van die bos nie as gevolg van hoe hulle ons behandel het.

Later van tyd toe ek in Kaapstad vir die stadsraad gewerk het, het ek by ’n huis in Athlone gewerk, vensters en sypaadjies reggemaak. Een dag loop ek toe by een van die huise in en sien hierdie man wat baie bekend lyk. Na ek ’n ruk met hom gepraat het, blyk dit toe dat hy een van die gevangenisse is vir wie ek kos gekoop het. Na dit was ek altyd welkom by sy huis en het dikwels soontoe gegaan vir middagete en koekies.

Elke Sondag om agtuur het al die kinders in Oukloof Sondagskool toe gegaan. Om nege-uur het die kerk begin.

Ons het skape en koeie gehad waarmee ons geboer het. Toe ons die storie hoor dat ons moet vlak toe trek, het my pa begin om die diere aan die boere te verkoop.

Ons toilet was langs die sloot waar die water afgeloop het. Toe die damwal gebreek het, het die water ons toilet weggespoel.

Ek het net to standerd vyf skoolgegaan, want daar was nie publieke vervoer soos ’n bus na Malmesbury se hoërskool toe nie. Daar was geen hoërskool vir bruinmense hier nie en my gesin het nie geld gehad om vir losies op Malmesbury te betaal nie. Vandag is daar busse wat die kinders elke dag vat. Na skool het ek by die PPC sementfabriek in Riebeek-Wes gaan werk en daarna is ek Kaapstad toe om in die staalfabrieke te gaan werk.

In Oukloof kon ons met diere geboer het, maar hier in Esterhof word ons nie toegelaat nie. Jy moet by die munisipaliteit aansoek doen vir grond en dit vat vir ewig.

Toe ons in Oukloof gebly het was ons naby die dorp, maar hier is ons bietjie ver. Dit kan jou maklik ’n halfuur vat om dorp toe te gaan en in die somer is dit warm en in die winter koud en reënerig.

My pa het ons gestuur om die sinkplate en houtbalke van die ou huis te bring. Ek moes op die sinkplate sit en waghou sodat niemand dit steel nie. Ons het party van die sinkplate verkoop, en ander het ons hiernatoe afgebring. Oom Adonis-hulle was die eerste gesin wat hier ingetrek het.

My Oom Lukas Lameyer was op sy manier baie betrokke met politiek. Hy’t altyd met die boere oor hierdie sake gepraat en nie nonsens van hulle gevat nie. Wanneer hy ookal gepraat het, het hy hierdie groot woorde gebruik om dinge te verduidelik. As seun het ek altyd met ontsag na hom gekyk. Hy het gesê wat hy dink en het nie toegelaat dat die boere vir hom vertel wat om te doen nie. Die boere het gehou daarvan om met hom te praat en ek dink hulle het hom gerespekteer. Toe hulle begin praat van die verskuiwing was hy die een wat opgestaan het en gesê het dis nie reg nie. Hy was kwaad en het met die witmense baklei. Hy het vir homself opgestaan, maar dit het nie eintlik gehelp nie.

Ek was maar nog jonk toe hulle begin praat het van die verskuiwing. Daardie tyd het ek nie gevra hoekom ons moet trek nie. Dis net nou wat ek ouer is dat ek antwoorde wil hê. Ek het nooit regtig antwoorde by my ma of pa gekry nie. Ek het selfs die ou witmense gevra, maar hulle het ook nie antwoorde vir my nie. Ek het selfs ou Attie Vlok gevra, maar hy’t net gesê hulle het ons reeds uitbetaal so hoekom wil ons nog weet? Die ding is, hulle het ons nie eers uitbetaal nie, die staat het. Ons het net R17 500 gekry, en dis niks.

Ek is nie kwaad nie, ek dink ek is net seergemaak oor wat met ons mense gebeur het.

Wanneer ek dorp toe stap, loop ek altyd met Kloofstraat op. Dis hartseer om te dink dat daar nou ’n huis is waar die kerk eers was. Soms wonder ek oor waar die geld vir die kerkgrond heen gegaan het. Die witmense het regtig gedoen wat hulle wou in daardie jare. Hulle het nie omgegee nie. Dit gaan steeds vandag aan. As die witman sy sin wil hê, dan sal hy ’n weg vind, maak nie saak wat nie. Daar is baie mense in ons gemeenskap wat goed soos potte maak, maar daar’s nie ’n manier hoe hulle dit in die dorp kan verkoop nie. So baie mense kom van elders op ’n Saterdag na die dorpsentrum. Op die plein is daar ’n witman wat blomme en plante verkoop, maar hy’t nie eers ’n permit nie. Ons mag nie. Toe ons die wettoepassers gevra het om ons sy permit te wys, het hulle net gesê ons moet hom uitlos. Willem Kriel groei groente hier. Mense kom na sy tuin hier in Esterhof om sy groente te koop, maar hy mag nie in die dorp verkoop nie.