Die Junies-Familie

Plot 62

Moeder:Gertruida Junies (née Goedeman)
- haar ouers was David en Truida Goedeman / Plot 60
Vader:Adam Junies
Het 8 kinders gehad:Sophie - bly in Belhar
*Alletta - leef nog (Riebeek)
*Adam - leef nog (Riebeek)
Elizabeth - oorlede
David - oorlede
Kristina - leef nog (Riebeek)
Henry - oorlede (3 jaar nadat hy Esterhof toe getrek het, in ’n treinongeluk op die treinspoor)
Oupa aan moederskant:David Goedeman - het amper 100 oud geword
Ouma aan moederskant:Truida Goedeman
Onderhoud met Aletta van Neel (née Junies):

Ouderdom 74 – gebore 1944
Gebore in Oukloof
Ouderdom 21 toe die gesin uit Oukloof moes verskuif

Uittreksel uit Aletta se onderhoud:

Ons het in die witgedeelte van Oukloof gewoon, in Van Riebeekstraat. My familie was Christenmense, so elke Sondag was ons in die kerk en Sondagskool. My pa het met skape geboer en ons het ons eie vrugtebome op ons erf gehad. Elke jaar het ons £1,10 belasting vir die huise betaal. Ons huis het vier vertrekke gehad, met twee slaapkamers, ’n sitkamer en ’n kombuis.

Ons het ’n groot erf gehad wat ons gebruik het om op te boer. Hennie Dippenaar het ’n klein stuk langs sy grond gehad en somtyds het hy toegelaat dat my pa ons skape op sy grond kon laat wei. Ons kon vir onsself sorg. Ons het uit die tuin uit geleef met ons ons groente. Ons het meeste van ons vleis gekry van die diere wat ons geslag het. Die enigste wat ons moes koop was wors en maalvleis wat ons by die slaghuis gekoop het, en goed soos koffie, meel, rys, suiker, kerse en olie by die winkel.

Sommige mense het koeie vir melk gehad en ander mense het melk by hulle gekoop. Ons het botter gemaak in ou houers met ’n plank wat ons moes karring totdat die room botter geword het. As kinders het ons altyd my ma help botter maak.

As ons te veel eiers gehad het, het ons dit by Dippenaar se winkel geruil. Meeste van die goed was so gekoop. Toe ons hiernatoe getrek het, moes ons alles agterlaat. Toe moes ons alles koop.

Ons het ’n eikeboom op ons erf gehad waarin ek geklim het en dan na die berge se kant toe geskree het om my eggo te hoor.

Ek het in die sendingkerk skoolgegaan. Ons het ’n skoolhoof, ’n onderhoof, twee wit onderwyseresse en twee wit onderwysers gehad. Ons het baie geleer. Uit daardie skool was daar kinders uit wat kollege toe gegaan het as die familie dit kon bekostig het. Die klasse was verdeel in twee standers per klas. Kinders in Sub A en Sub B was saam. Standerd 1 en 2 was saam, standerd 3 en 4 was saam, en standerd 5 was apart. Die skool het net tot standerd 5 gegaan.

In daardie dae moes ons seker maak daar was genoeg water en hout in die huis voor die son ondergaan. Elkeen in die gesin het hulle takie gehad. Gelukkig het ons water op ons erf gehad net buite die kombuisdeur. Elke kind het sy tyd gehad om terug by die huis te wees, anders was daar moeilikheid.

Daar was ’n speelplek agter my ouma se huis. Dit was ’n groot stuk veld met ’n watertenk wat hulle die reservoir genoem het. Ons het daar gespeel en bymekaar gekom vir Guy Fawkes.

Die ouderlinge van daardie sendingkerkie het hard saam met hulle vrouens in die gemeenskap gewerk. My ouma was ’n senior in die kerk en het sy koek gebak vir die koektafel by kerkbasaars. Al die jong kinders moes help eiers klits.

Aan die begin het die witmense ons nie gepla nie. Ons het ons eie ding gedoen. Toe sê hulle later aan ons maak te veel lawaai, maar dit was nie waar nie. Ons het reg langs die wit gebied gebly en op ’n Sondag het jy nie eers geweet daar bly mense nie, dit was so stil. Oor naweke, in die aande, was daar byeenkomste, maar daar was ’n tyd wat hulle geweet het hulle moes ophou.

Almal het tussen mekaar gepraat oor die verskuiwing. Niemand het opgestaan nie. In daardie tyd moes jy net spring as ’n witmens so sê. Daar was niks wat jy kon doen om dit teë te staan nie. Ons moes maar net vat wat hulle gee en bly wees.

My ouma he baie gehuil toe sy gepak het. Sy het baie gehuil want dit was hulle lewe. My oupa het op die paaie gewerk. Die Boesmanskloofspas wat vandag nog bestaan is met ’n pik en byl gebou. Hy het in sy jonger dae op die pas gewerk.

Ons het al ons goed met ’n trekker en waentjie getrek. Die boere het vir ons hulle trekkers en waentjies geleen om met die trek te help. Hulle was gretig om ons te help, gratis. Net sodat ons moet uit.

Mense in Oukloof het groot swart koolstowe gehad waarin ons aan die een ’n vuur kon gemaak het en ons brode aan die ander kant kon bak. Dit was in die huis igebou, met ’n skoorsteen. Ons moes dit agterlaat. Hier het hulle ’n klein stofie ingesit wat nie regtig die huis warm maak in die winter nie.

In daardie dae was die winkels afhanklik van die bruinmense want dit was die bruinmense wat dit die meeste ondersteun het. Die bruinmense het nie vervoer soos die witmense gehad om op ander dorpe te gaan inkopies doen nie. Ons kon net op die dorp koop. By meeste van die winkels was daar net een deur. Dit was net die Bassons se winkel wat twee deure gehad het, een vir blankes en een vir kleurlinge. Daar was sekere goed wat nie beskikbaar was aan die kleurlinge se kant nie. Na ’n ruk het die bruinmense by die witmense se deur ingegaan om die goed te koop wat hulle nodig gehad het. Aunt Lily (Lydia van der Merwe) het in die Bassons se winkel gewerk en sy het dikwels daarop gewys dat ons geld goed genoeg was vir hulle, maar dat ons by aparte deure moes ingaan. Sy het hulle maak verstaan dat dit nie reg was nie, en na ’n tyd toe verander hulle dit, want die witmense het hulle nie eintlik ondersteun nie.