Die Joubert-Familie

Plot 16B

Moeder:Fransina Joubert
Vader:Alexander Jobert
Het 10 kinders gehad:Alexander
Joseph
Adonis
Johannes
Isaac
Ella
Flora
Maria
Fransina
Susanna

Onderhoud met Isaac Joubert:

Gebore in 1936
29 jaar oud toe sy gesin uit Oukloof verskuif is.

Uittreksel uit Isaac Joubert se onderhoud:

Ek was hier in die Oukloof gebore en toe ek nege jaar oud was, toe staan ek voor my pa se sterfbed. Hy is dood in die huis waar ons almal gebore is. Ek het vier susters gehad.

Toe ek ses jaar oud was, toe moes ek skool toe soos die reël daai tyd was. Die skool was in die kerk op die heuwel. Dit was net so ’n paar tree van my huis af, ek moes net oor die pad loop en dan deur ’n draad klim en dan was ek daar. Ons het ’n baie streng juffrou gehad, ons het vir haar gesê Juffrou Maree. Sy was ’n wit onderwyseres. In daai tyd kon ons nie gesels het soos ganse soos nou nie. Jy was nie net stilgemaak nie, dit was soos ’n skrik wat deur jou gaan. Sy sou sê: “Gaan nou na die skoolhoof en dan moet jy nou drie klippies optel.” En ek’s toe nou so vol blydskap, ek kry dan nou ’n ou werkie. Maar min het ek geweet dis drie houe wat ek sou kry met die kweperlat, dis hoekom ek die klippies moes vat!

Een dag toe stuur my ma my en ’n vriend na die winkels toe. Dit was ’n Saterdagmiddag. Ons moes verby ’n wit vrou se huis stap. Ons het haar Juffrou Lettie genoem. Dit was baie stil by haar huis en by die voordeur was ’n hok met lemoenduifies wat sy as troeteldiere aangehou het. Hulle was lief vir hulle voëls. Ons het die hok oopgemaak en ’n duifie gevat. My vriend het sy vere afgepluk en sy nek omgedraai. Toe ons terugstap na die Oukloof toe nadat ons die goed gekoop het wat ons gestuur was om te koop, het hy die voël oor die heining in ’n veld waar daar geen huise was nie gegooi. Dit was in die middel van die somer. Die Maandag toe ons by die skool is, is daar ’n klop aan die klasdeur. Toe die juffrou die deur oopmaak, toe staan die polisieman daar, Mnr Muller. Ek skrik toe groot toe hy vra om met my te praat. Dit was dan die polisie. Sy uniform alleen kon my skrik maak. Hy vra my toe waar die duifie is en ek sê hom wat my vriend gedoen het en waar hy hom gegooi het. Ek moes hom die duif gaan wys en soos ek deur die draad klim, sê hy: “Wees versigtig, moenie jou klere skeur nie.” Ek het baie bly gevoel. Ten minste was hierdie polisieman vriendelik. Toe ek die duifie kry, het hy nog geblink van die vet wat uit hom gesypel het soos die son hom gebrand het. Hy het bros gebrand in die son. Ek weet nie wat hy daarna met die duif gedoen het nie, maar my pa moes my na die polisiestasie gevat het en my self daar ’n loesing gegee. Hy het vir my pa gesê hy gaan dit nie self doen nie. My vriend het saam met my gekom en ons het elkeen drie houe gekry. Ek was net so bly dat ons nie daarvoor tronk toe gegaan het nie.

Mnr Muller was nie te sleg nie. Ek het van hom gehou. Op Saterdae het hy na die veld toe gekom om vir ons te blaas as ons rugby speel. Daar was nie pale nie, maar ons het gespeel. En daai verdomde harde grond het ons vel afgeskraap wanneer ons geval het. Ek was bang, as die bal so aankom dan gooi ek dit sommer so veld toe, hy moenie aan my vat nie.

Daar was ’n ander polisieman voor hom wat hulle Winterbach genoem het. Daai naam het vir my kliphard geklink en onbeskof, net soos hy. Hy was ’n hardegat polisieman. Hulle het altyd gevra: “Is Winterbach alweer hier?” Hy was ’n hardegat. Hy het kamaste oor sy stewels gedra wat so geblink het jy kon jouself sien. Die bandiete moes dit vir hom opvryf. Hy het ’n motorfiets met ’n syspan gery. Dit het amper soos ’n Harley Davidson gelyk. Hy het die mense geslaan en dan daarna in die tronk gegooi.

In daai dae was daar ’n polisiestasie in Riebeek-Kasteel, maar dis nie meer daar nie.

Esterhof was vir my ’n situasie van, as ek ’n huis wil hê, dan moet ek hiernatoe trek. Ek moes moeite doen om ons goed hier te kry en totsiens te sê vir Oukloof. Dit was nie ’n lekker tyd nie. Baie mense in ons familie het hulle eie gang gegaan toe hulle sê ons moet hiernatoe skuif. Ons het by ’n 2-vertrek huis ingetrek. Dit het my ’n lang tyd geneem om in Esterhof aan te pas. Ek het steeds Oukloof se herinneringe binne in my.

Toe hulle ons kerk gesloop het, was dit ’n hartseer tyd vir my, maar ’n gebou is ’n gebou en dit is wat die kerk was. ’n Gebou kan niks vir jou doen nie. Dit beskerm jou teen wind en reën. Jy moet die tempel wees van Goed. ’n Kerk is ’n gemeenskap waar mense saamkom om te bid. ’n Plek waar mense saamkom om God te dien. Nou ek wil nie praat oor ’n dooie gebou nie, want dan ek maar van hierdie huis ook praat. Ek hou baie van my huis. Ek het nie ’n kerk nodig om vir God te dien nie.

Mens moet dieper kyk na die situasie. Daar is altyd gevolge vir mense se optrede. Wat met ons gebeur het het diep gevolge. Nou sê die witmense dit was verkeerd, maar die Here sê kyk dieper na die situasie. Die witmense het gedoen wat hulle wou in daai tyd. Hulle het nie gedink hoeveel mense hulle gaan raak nie. En dit het. Vir baie jare. Ons is ontneem van die vryheid wat ons geniet het. Ons vryheid is van ons weggeneem.