Die De Bruin-Familie

Plot 17

Ouma:Susana de Bruin
- Haar ma - Kristina Amerika
- Hulle was van Riebeek-Wes
Oupa:Nicolaas de Bruin
- van Riebeek-Kasteel
Onderhoud met Jacobus de Bruin:
Gebore 1951
Bekend as as Kosie 14 jaar oud toe sy gesin uit Oukloof verskuif is.

Moeder: Susanna Heynse (née de Bruin)

Uittreksel uit ’n onderhoud met Kosie de Bruin:

Ek is in Oukloof gebore en het by my ouma en oupa gebly, my ma se ouers. Daar was ’n hele klomp van ons on die huis.

My ouma het op die plaas Allesverloren grootgeword voordat haar gesin geforseer was om daarvandaan af te trek. My ouma en oupa het in een van daai huisies op die hoofpad tussen Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes gebly. Die huis was oorkant die dokter se spreekkamer geleë. Op die hoek is daar nou ‘n restourant, maar dit was hulle eerste huis. Dit was in die wit area. Hulle moes verskuif toe witmense daar begin eiendom koop en ingetrek het. Hulle het van daar af na Oukloof getrek.

My ouma het in die witmense se huise gewerk. Sy’t tydelik by ’n paar plekke gewerk. In daai dae het sy tiekie en ’n sikspens gekry en as jy ’n beter werk gekry het, was dit ’n kroon. Dis wat hulle die geld in daai dae genoem het.

Volgens die Apartheidswet was swartmense nie toegelaat om in Oukloof te woon nie. Ek weet van een swartman, sy naam was Hitler, wat by my Oom Pieter grootgeword het. By ons huis was hy soos ’n huiskind. Hy het op Swartdamplaas gewerk, maar hy het nie in Oukloof gebly nie. Hy het dikwels vir my oom kom kuier. Hy het ook vir die Primrose-span rugby gespeel.

Daar waar die munisipaliteit vandag is was daar ’n winkel wat deur Piet Katosh bestuur is. Hy het twee ingange vir sy winkel gehad en bo elke deur was daar nie-blankes en blankes. Hy het meeste van sy groente by die Ouklowers gekoop, want hulle het groot erwe gehad. Hy het ’n reëling met hulle gehad dat hulle meel en dies meer in ruil kon kry.

’n Boer, Jantjies Grobbelaar, het ons huis vir ons in Oukloof gebou. My oupa het vir hom gewerk en hy het gesê dis ons huis. Dit het ’n groot voorkamer gehad, ’n ruim slaapkamer en ’n redelike groot kombuis. Dit was een van die enigste huise wat van baksteen gebou was. Oom Doon Lameyer het ook ’n baksteenhuis gehad, want hy was ’n bouer. Sommige van die ander boere het huise vir hul werkers gebou. Klein huise, maar op groot erwe. Die boere het gesê omdat hulle op die plase gewerk het, was die huise hulle s’n.

Ons het langs die sloot wat langs die huise geloop het gebly. Ons het ’n groot stuk grond gehad wat van die pad na die sloot was. Ons het diere gehad soos ganse, makoue en hoenders. Ons het selfs hasies gehad en hulle was boggers wat gate onder deur die draadheining gegrawe het. Dan moes ons hulle loop soek. Ons het ook twee bokke gehad, want as kind mag ek nie koeimelk gedrink het nie. Ek is as kind amper dood en blykbaar moes ek na Ou Dr van Zyl gaan, wie ons Dr Poepoltjie genoem het, wat vir my ouma gesê het om my van die koeimelk af te vat en eerder bokmelk te gee. Dis waarom ek tot vandag nie koeimelk drink nie. Ek dink my koffie swart.

Ons het nie elektrisiteit gehad nie. Ons mense het olielampies en kerse gebruik. Ons het nie geld vir glas gehad nie, so ons vensters was met stukke hout toegemaak wat ons dan in die dag afgehaal het. ’n Houthut met ’n gat in die grond en ’n drom was ons toilet. Ons moes dit self maak. As die drom vol was, dan moes jy dit in ’n gat in die grond begrawe, iewers in ’n hoek van die erf.

Ons het nie lopende water in ons huise gehad nie. Ons het water by die reservoir gekry. Later het ons krane gekry en Oom Dawid Goedeman, wat by die Dorpsbestuur gewerk het, was verantwoordelik om in die oggend en aand die krane oop en toe te draai. Ons moes koepons by die kantoor koop en as ons nie koepons gehad het nie, dan kon ons nie water kry nie.

Die bruinmense het nie vervoer gehad om na die dokter se spreekkamer in Riebeek-Wes te ry nie, so hulle moes loop. Die dokters en verpleegsters het somtyds uitgekom, maar dit was raar. Meestal het ons vroedvrouens in ons gemeenskap gehad om babas te vang.

Gedurende Kerstyd het die grootmense deur die dorp geloop na elkeen van die witmense se huise om te sing. Hulle het Kersfeesliedere gesing en meeste van die witmense het daarvan gehou om die bruinmense te hoor sing. Die vrouens het pragtig gesing. Hulle het van huis tot huis geloop en sing, en na die tyd het hulle koek en gemmerbier by die witmense gekry.

Om ’n kind te gewees het in Oukloof was die beste tyd van my lewe. Ons was vry en almal het mekaar geken. Ons het almal byname gehad. Ek was Ou Hen.

Ons het die oumense se kwepers gesteel. As kinders het ons baie van vrugte gehou. Oppad om hout in die berge te gaan haal, het ons verby Oom Jantjies se plek gelooop en hy het kweperbome gehad. Daar was ’n gat in die heining en ons het Piet Tokkie daardeur laat klim want hy was die maerste. Een dag het ’n vrou ons gesien en die ou man vertel. Ek weet nie hoe my naam daarmee deurmekaar geraak het nie, want ek was nie die een wat binne die erf gevang is nie, maar toe ek by die huis kom, toe gee my ouma my ’n pakslae.

Die grootmense het op Vrydae en Saterdae gedrink. Sondae was daar geen drinkery gewees nie. Na middagete het die grootmense saam met ons ablou, blikkie aspaai en drieblikkies kom speel. Ons het blikkies opmekaar gepak en dit met ’n bal gegooi. Jy was veronderstel om net die boonste blikkie om te gooi en dan te hardloop want iemand sou jou met die bal probeer uitvang. Die groot mans het saamgespeel en die grootmense wat nie saamgespeel het nie het gesit en ons aangemoedig.

Agter die kerk was die lykshuis en net aan die ander kant van die kerk, soos die heuwel afgaan dorp toe, het die TB huisie gestaan. Dit was net ’n houthok en bruinmense wat TB gehad het was daar gesit. Kos is na hulle toe gevat. Hulle moes daar bly, en as hulle sou dood gaan, dan gaan hulle dood. Ek weet van een vrou wat dood is in daai hokkie. En dit was koud. Daardie tyd was daar nie elektrisiteit nie so daar was nie ’n verwarmer binne nie.

Die lykshuis was agter die kerk. Die mure is gebou met gate tussen die stene en dit het die plek binne koel gehou. Amper soos die boere hul koelkamers gebou het. Somtyds sou hulle die lyk ’n paar dae voor die begrafnis bring en dan lê dit daar op ’n draagbaar onder ’n wit laken. Ou Jasper Laubscher, ’n wit man, het kiste in die dorp verkoop. Hy het ook ons pos Hermon toe aangery. Die vrouens en kinders is in wit kiste begrawe en die mans in eenvoudige bruin kiste. Daar was geen lykswa in die dorp vir ons nie. Die kiste was van soliede hout gemaak en het net twee handvatsels aan elke kant gehad. Die kerk was amper drie kilometer van die begraafplaas af en na die diens het ons almal afgeloop soontoe en beurte gemaak om die kis te dra. Ons ingang na die begraafplaas was aan die kant van die pad wat na De Hoopplaas toe gaan. Ons is aan die een kant begrawe terwyl die witmense aan die ander kant begrawe is, met spoggerige grafstene.

Daar was ou witmense wat ’n hart gehad het. Hulle sou ons help as iemand sou siek word of wanneer iemand dood is. Ou mevrou Bester wat op die hoek oorkant Kloof en Hermonstraat gebly het was een van die goeies. Ons het altyd verby haar huis geloop oppad skool toe. Die padjie is nog steeds ’n grondpad vandag. Dis net toe die nuwe witmense begin intrek het dat alles in die dorp verander het.

Die skool vir die bruin kinders was eers in die sendingkerk gehou voordat hulle die Meiring laerskool gebou het. Slegs die ryk bruin kinders het skoene gehad. Meeste van ons het kaalvoet geloop. Vir skool het ons net ’n kortbroek gedra. Daar was nie eintlik ’n skooluniform nie. Ons was arm. Meeste van ons ouers het op die plase gewerk, so hulle kon dit nie bekostig om ’n uniform te koop nie. Ons moes net seker maak ons was skoon. In Sub A het ons ’n griffie en ’n lei gehad, ’n botteltjie water en ’n lappie. As die juffrou groot op die swartbord skryf, dan moes ons dit oorskryf op ons lei, en wanneer dit vol is, dan het ons dit oorgeskryf in ons boeke. Dit was eers klein Sub A, dan groot Sub A, klein Sub B, dan groot Sub B. Standerd een en twee se kinders was in dieselfde klas gewees en so het dit aangegaan tot standerd vyf wat sy eie klas gehad het. Later het hulle die klasse verdeel in oggend- en middagklasse, want daar was te veel kinders. Al die bruin plaaskinders het in die oggend skool toe gekom.

Dit was net die ryk witmense wat op die Dorpsbestuur was. Hulle het die dorp regeer. Hulle het die besluite gemaak wat met ons moet gebeur. Toe kom die Apartheidswette en die witmense begin praat van ’n vergadering, waar hulle met die oumense sou kom praat. Die witmense het net op hul eie besluit dat die grond van ons af weggevat sou word.

Die voorman van die Dorpsbestuur, Attie van Jaarsveld, het na die mense toe gekom en gesê hulle moet trek. Hulle het ons gesê ons sou beter en meer soliede huise kry. Die huise waarin ons gebly het was onveilig. Oom Lukas Lameyer het nog vir hulle gesê: “My huis staan nog al hierdie jare. Daar niks verkeerd met dit nie. Ek gaan nêrens!”

Baie van die oumense wou niks teen die witman sê nie want hulle was bang vir die polisie en in daardie dae het jy nie teruggepraat nie want hulle kon jou laat opsluit.

Hulle het so baie beloftes aan ons mense gemaak oor die verskuiwing. Hulle het gesê ons sou beter huise kry met twee of drie slaapkamers, ’n sitkamer en ’n kombuis met ’n voor- en agterstoep. Ons sou ’n badkamer en toilet binne in die huis kry. Dis al die beloftes wat hulle aan ons mense gemaak het. Maar dit het nooit gebeur nie! Hulle het ook gesê dat die huise ons eiendom sou word en dat ons nie daarvoor sou betaal nie. Maar so gou as wat die mense ingetrek het is daar gesê dat hulle ’n maandelikse huur moet betaal. Met ander woorde, die huise het aan hulle bly behoort. Ons het dit net van hulle gehuur. Vir jare moes ons huur betaal. Sommige mense kon nie die huur betaal nie en dan was hulle uit die huis gesit. Hulle meubels is tot op die sypadjie gedra en die deure gesluit. Dan het die munisipaliteit gesê ons kon die eiendomsbewys na tien jaar kry. Dit het ook nie gebeur nie.

Hulle het gesê ons sou ’n polisiestasie, winkels en ’n kliniek kry, maar dit het nooit gebeur nie. Daar’s niks! Die winkel wat hier is is deur die eienaar gebou met sy eie geld. Die kliniek het eers onlangs gekom toe die kerk sy saal uitverhuur het aan die gesondheidsdepartement. Ons het eers ’n klein reiskliniek gehad wat na die area gekom het. As jy medikasie wou hê moes jy al die pad stap na die dorp se munisipaliteit toe om dit te kry.

Hierdie huise is in fases gebou. Die eerste fase wat gebou is, was die 4-vertrek huise, wat die eerste huise is wat jy sien as jy Esterhof binnekom. Daardie blok is eerste gebou. Die 4-vertrek huise het ’n kombuis, sitkamer en twee slaapkamers gehad. Die toilette was steeds agter in ’n geboutjie buite en die kraan was in die straat. Die ry huise agter die eerste straat is die 3-vertrek huise en hulle is gedurende die tweede fase gebore. Dan kom die 2-vertrek huise wat skakelhuise is.

Almal het so stuk-stuk getrek. Sommige mense moes trek wanneer daar ’n kar of vervoer beskikbaar was. Baie moes gedurende die nag trek wanneer hulle klaar was met werk. Ons het in die aand getrek.

Ons was veronderstel om deel te wees van die eerste fase mense wat moes trek, maar daar was ’n probleem met een van die vloere, so ons moes wag tot die einde. Soos ek elke dag deur Oukloof geloop het sou ek sien daar’s nog ’n huis wat leeg is. Dan was die antie nie meer daar nie, dan daai een, en so aan. In die nag kon jy net hier en daar ’n liggie sien brand. Op een stadium was daar net drie huise wat nog bewoon was. Dink net om in jou buurt te bly en dan skielik is almal wie jy ken nie meer daar nie! Die huise rondom jou is leeg en alles om jou is verlate. Dan dink jy aan die eerste antie wat Esterhof toe moes trek toe almal nog in Oukloof gebly het. Daar was niemand anders wat hier gebly het toe sy ingetrek het nie. Dit moes baie donker in die nag hier gewees het en sy’t seker opgekyk na die vallei en al die ligte in Oukloof gesien.

Ons het gekyk hoe hulle Oom Andries Koopman en Oom Japie se huise gesloop het. Hulle het trekkers gebruik, en somtyds stootskrapers. Hulle het net die arm van die stootskraper teen die huis gesit dan val hy om. Daar was pragtige houtwerk in daardie huise. Hulle het nie alles onmiddellik weggevat nie. Die plek het vir ’n ruk lank so gestaan met halwe mure en rommel wat oral gelê het.

Vandag sit ons hier omtrent twee kilometer weg van die dorp. Esterhof was rof toe ons eers ingetrek het. Alhoewel ons ook grondpaaie in Oukloof gehad het, was daar nooit karre wat deur die area gery het nie. Hier het ons grondpaaie vir baie jare gehad. Die boere het met hulle bakkies gekom om die werkers te kom oplaai en dan was daar oral stof. Ons kon nie ons huise skoonkry as gevolg van die baie stof nie.

Esterhof is vernoem na Mnr Esterhuysen, wat die skoolhoof van die wit laerskool was, asook die voorsitter van die Dorpsraad. Hy het niks vir ons bruinmense gedoen nie. Die een wat iets gedoen het was sy vrou. Sy was die bloemiste wat ruikers vir troues en begrafnisse gemaak het. Esterhuysen was net ’n skoolhoof. Hy’t niks vir ons gedoen nie.

Die bruinmense het pragtige soliede houtmeubels gehad, soos my ouma wat ’n hoed- en sambreelstaander gehad het met ’n spieël in die middel en ’n gat vir die wasbak. Jode uit Wellington en die Paarl het hiernatoe gekom op soek na sulke meubels en in ruil het hulle swakgehalte meubels gekry. Hulle het nie geld aangebied nie. Ek was baie ongelukkig toe ek hoor wat my ouma gedoen het. Ons meubels het baie sentimentele waarde gehad en in ruil het hulle goedkoop meubels gekry. Hulle is gekul. My ouma het ook een van daai ou kombuiskaste gehad met ’n klok in die middel en ’n rak aan die kant en onder en ’n broodblik. Dit het in verskillende kleure gekom. Dis ook weg.

Toe almal uit Oukloof uit weg is, het hulle die kerk gesloop. Die grond is aan Attie Vlok verkoop en hy’t ’n huis vir sy voorman op daardie grond gebou. Daardie huis staan vandag nog.

Vir my as ek aan my Oukloof dae terugdink, dan gryp dit my aan die hart om te dink waarheentoe ons gegooi is. Selfs vir my as kind het ek deur dieselfde pyn gegaan as my ouma, oupa en my ma tydens die verskuiwing. Die pyn en onsekerheid wat ons moes ondergaan. Hoe hulle ons in daardie tyd behandel het en om te dink die witmense kan nie hulself kry om jammer te sê wat hulle gedoen het nie. Soos hulle sê: “Jy’s ’n hotnot, jy’s niks meer nie.” Daar’s nog steeds baie van hulle wat dink ons is nie mense nie.

Vir die oumense is dit baie swaar om oor daardie dae te praat. Hulle voel dis in die verlede en hulle wil nie te lank daaraan dink nie, want dis te pynlik.

Somtyds raak ek kwaad as ek dink wat ek sou kon wees as ek daar bo kon bly. Wat ek vir my kinders sou kon gee. Daar sou ek so bietjie kon boer. Daar’s geen grond hier beskikbaar vir ons om op te boer nie. Die probleem is daar is niks vir ons mense hier nie. Nie een van ons bruinmense besit ons eie grond in die area nie. Nie een wat uit Oukloof uit kom nie. Hulle het die kennis wat hulle het hulle hele lewe op plase gewerk en hulle het ook in Oukloof geboer.

Baie van ons mense het sedertdien uit die area getrek. Hulle bly eerder in die stad, want daar’s niks vir hulle hier nie.

Dis mos logies dat ek sal kwaad word oor dit. Enige iemand sal. Die seer is nie iets wat in jou klere sit wat jy net kan afwas nie. Dit sit diep binne-in ons. Dit is dinge wat ek as kind gesien het en saam met my ouers deurgemaak het. Vandag is daar ’n wingerd op die grond waar ons ’n huis gehad het. Miskien kon ons nog ’n huis op ons erf gebou het. Maar in stede daarvan het hulle ons weggevat en hier kom gooi waar daar niks is nie!

Eenkeer het ’n witman van die stadsraad gevra waarom ons so baie vrae oor die verlede vra. Hy het probeer om positiewe voorbeelde te gee van al die dinge wat die witmense oor die jare gedoen het. Rudy du Plooy het vir hom gesê om nie ou wonde oop te krap nie, want hy sal laaste kom. In daardie stadium was daar meer bruinmense op die wyksraad as witmense en ek kon sien hoe dit wat hy sê sommige van die mense geraak het.

Ek wil hê die witmense moet verstaan, veral die NG Kerk, dat ons nie gelukkig is oor wat hulle gedoen het nie. Die Kerk was in beheer van die grond en wie wat gekry het. Nie een keer het enige van die dominees opgestaan en gevra vir ’n verskoning nie.

Dis een van die mees belangrike projekte waarby ek betrokke is. Ons geskiedenis is nie gedokumenteer nie. Dis nêrens nie. Wat sê ek vir my kinders en kleinkinders? Op ’n stadium sal hulle wil weet waar ons vandaan kom. Ek wil hê dat daar ’n monument is met al ons name op, sodat mense weet dat hierdie mense die Ouklowers was en dat hulle die mense was wat deur die witmense uit die dorp uit verskuif is.