Die Daffnee-familie

Plot 6

Moeder: Katrina Daffnee (née Kriel)
Het in die winkel gewerk
Vader: Frans Daffnee
Het vir die spoorweë gewerk deur stene uit die weg te ruim
Het 8 kinders gehad:Sarie - Oorlede
Krisjan - Oorlede
* Katrina Alleta Samuels (Annet) - Leef nog
Stefanus - Oorlede
Sampie - Leef nog
Doretia - Leef nog
Maria - Leef nog
Hermanus - Leef nog
Die Daffnee-familie kom oorspronklik van Caledon in die Overberg-area. Oupa Frans Daffnee het na Malmesbury gegaan om as arbeider op die paaie te werk voordat hy in Oukloof gaan woon het.

Katrina en Frans Daffnee het saam met hulle 8 kinders in ’n 2-vertrek huis gebly langs die sloot op plot 6.

Alleta Samuels (Annet) was omtrent 10 jaar out toe hulle uit Oukloof verskuif is.

Uittreksel uit ’n onderhoud met Alleta (Annet) Samuels (née Daffnee):

“Ek is in Oukloof gebore en my ouers ook. My ma se huis was teen die sloot wat deur Oukloof geloop het. Dit was ’n ruim erf met ’n groen grasperk wat tot teen die sloot geloop het. Ons was baie lief om daar te speel. By my ouma se huis was daar ’n groot boom waarin ons gespeel het. Dit was nie nodig om in die strate te speel nie. Oorkant my ouma se huis was ’n stuk veld met die reservoir waar mense water gaan haal het en die kinders kon veilig daar speel. Hieronder het kinders nie ’n veilige speelplek nie.

My ma het ’n tweeslaapkamerhuis gehad, maar dit was groot en ruim. As hulle destyds geld gehad het om aan te bou kon sy vir haarself ’n mansion op daardie grond gebou het. In die kombuis het sy ’n koolstoof met ’n skoorsteen gehad en onder die venster het ’n tafel en stoele gestaan. Aan die ander kant van die kombuis was nog ’n tafel. Slegs sy mag by daai tafel kosgemaak het. Niemand ander mag daardie tafel gebruik het nie. Sy was baie netjies. Elke ding was altyd op sy plek. Die seuns kon aangetrek het wat hulle wou, maar ons meisies moes dieselfde rokke dra en ek was nie beïndruk met dit nie. My ma het Sondagskool gegee en my pa was ’n diaken in die kerk.

Die enigste ding wat vir my nie lekker was nie, was daai balie-toilette, daai wat jy moes laat leegmaak het. In die oggend het my oom, my ma se broer en my pa opgestaan, en dan het hulle ’n gat gemaak, en dan het hulle die balies as hy vol is daar ingetip. My ma was ’n baie presiese mens. Sy’t Dettol ingegooi en dan die balie gewas. Dan is die gat toegemaak en die balie is teruggesit. Ons almal moes help.

Ek het na die bruin baksteenskooltjie hieronder gegaan. In die somer was dit lekker om af te loop, maar in die winter was dit ’n neukery gewees. My broer het altyd kartonbokse om ons voete gedraai om die koue uit te hou, want ons het nie skoene gehad nie. As ons skoene gehad het, was dit net vir kerk en ons het bobby socks saam met dit gedra. As ons van die kerk teruggekom het dan moes ons weer ons huisklere aantrek.

Ons het water by die reservoir gaan haal. Oom Dawid het altyd die kraan in die oggende oopgedraai en dan vieruur in die aand dan kom draai hy dit weer oop totdat almal hulle water gekry het. Ons moes koepons koop om water te kry.

Die res van die dorp het elektrisiteit gehad, maar in Oukloof moes ons lampies gebruik. My ma het daai rondebollampe met die “stands” gehad en ons moes daai goed skoonmaak, elke dag! As kinders moes ons gewerk het. Jy moes Vrydagoggende vroeg opstaan as jy vars beesmis wou hê. Ons het na die beeste gegaan en gekyk watter bees se stert staan in die lug, dan weet ons daar’s vars mis oppad. Ons het dit dan met bietjie water gemeng en in die emmer laat staan. As ons van die skool terugkom dan het ons gestry oor wie dit gaan smeer. Al die meubels moes uitgeskuif word en dan smeer ons dit op die vloer. Nie met ’n lap nie, met die hand. Niemand mag ingekom het totdat dit droog was nie. Dan as dit droog is, dan ruik die huis vars. Die beesmis het die huis skoon gehou en die vlieë weg.

Die mense van Oukloof het altyd die 10kg meelsakke van Bokomo gekoop. Sodra die sakke leeg was, het hulle dit gebleik om van die letters ontslae te raak. Hulle het ’n paar van hierdie sakke vasgewerk totdat dit groot genoeg vir ’n matras was. Ons het dit met strooi gestop totdat dit ferm sonder enige knoppe was en die kinders het daarop gerol totdat dit ferm en gelyk was. Dis wat op die bed was. My ma het selfs beddegoed van daai meelsakke gemaak. Alles wat gebruik kon word is gebruik.

Ons was nie ryk nie, maar my ma het seker gemaak ons het goed. My pa en Baas Jan het met duiwe gevlieg en as hulle terugkom het hulle altyd vir ons iets gebring. My oom Sampie Pietersen, wat ’n polisieman geword het, het vir baie jare vir my gesorg.

Ons was nie toegelaat om saam met die grootmense te praat nie, veral nie gedurende die tyd toe hulle oor die trek gepraat het nie. Hulle sou sê: “OK, jy kom sit nou hier en drink my tee, ek sal gaan speel.” Hulle het dit tande tel genoem. Dis waarom ek nie regtig weet hoe dit alles gebeur het nie.

Die dag van die trek was ons by die skool. Toe ons moes teruggan Oukloof toe sê hulle ons moet na hierdie area toe kom, want my ouers het reeds getrek. Ons moes nog die huis soek. Toe was daar net twee rye huise hier. Hulle moes die trek inpas met hulle werksure en dis waarom hulle in die oggend getrek het. Die eerste ding wat ek gesê het toe ek hulle kry was: “Waar’s my ouma?”

Die eerste paar dae hier was lekker want ons was nou naby die skool, maar toe ons winkels toe moes gaan, moes ons al die pad opstap met die inkopielys. Somtyds is dit warm en somtyds was dit so koud. Hulle sit dan ’n hoedjie op jou kop, spoeg op die grond en sê: “Teen die tyd wat dit droog is, moet jy terug by die huis wees!”

As ons nog in Oukloof gebly het kon al die kinders huise vir hulself op my ma se erf gebou het. Hier in Esterhof kan ons nie net huise bou nie. Baie van die mense was hier gebore is sukkel om ’n huis te kry, maar nuwe intrekkers kry huise hier.

Daar sal niks in die museum oor Oukloof wees nie, want soos jy kan sien is daar niks op daai stuk grond oor nie. Hulle het dit skoongeskraap en wingerde geplant. Daar’s geen teken van ons nie. Daar is baie van die oumense vir wie ons erkenning wil gee, soos Ouma Maria Valentyne wat die vroedvrou in Oukloof was en meeste van die babas in die lewe gebring het.

Ek moet deur Hermonstraat ry om uit die dorp uit te kom, dan sê ek altyd vir my kinders om regs te kyk, dis waar ons gelewe het, nou is dit net wingerde.”