Die Ceaser-Familie
Plot 19 & 20
Man: | Piet Ceaser |
Vrou: | Sara Ceaser |
Hulle kinders was: | Sophia Manuel - oorlede Sara Hector - oorlede *Suzette Thomas Piet (Oom Piet) - oorlede Anna - oorlede Hendrina (Tietie Babie) - oorlede Stephanus (Faan) - oorlede Adonis - oorlede Dorie - oorlede Martha - oorlede Kristina - oorlede Florina - oorlede Salmon (Salie) - oorlede Eva (Nanny Dice) - oorlede Annette (Minettie) - leef nog |
Hierdie is ’n uittreksel uit Suzette Thomas se onderhoud:
“My ma is Sara Hector (née Ceaser), maar ek is deur my ouma en oupa, Sara en Piet Ceaser, grootgemaak. Ons was ’n klomp kinders in die huis. Hulle het 14 kinders van hul eie gehad en dan was daar ek, die oudste kleinkind. Daardie dae was die moeilikste, maar ook die beste. Die huis het twee ruim vertekke gehad. Omdat die erf so groot was, het Oupa Piet vir ons hokke gebou om in te bly. Agter die hokke was ’n groot stuk jaart waar hy groente geplant het en met hoenders en varke geboer het. Alles was baie skoon. Ons moes seker maak dit was so. Hy het ook donkies en ’n donkiekar gehad waarmee ons hout aangery het.
Ons het op die kant van die bloekombome aan die einde van die lokasie gebly. Daar was eerste ’n ry huise, dan ’n sloot, en dan was ons huis aan die ander kant aan die bokant van Oukloof.
Ons het baie van die kos wat ons gedurende die somer gekweek het vir die wintermaande gestoor. Daar was ’n kamertjie aan die kant van die kombuis waar die kos in groot vate gestoor is. Die vrugte is gedroog en Ouma Sara het konfyt gemaak.
As daar ’n tekort aan iets aan die huis was, dan het Oupa Piet een van die hoenders gevat en dit by die winkel geruil vir wat ons nodig gehad het. Dit was meestal vir suiker en koffie.
Ouma Sara, aan die ander kant, was ’n baie sagte mens. Sy het nie gewerk nie, want daar was so baie kinders om na te kyk. Daar was altyd die reuk van gebakte brood in die huis. Ouma Sara het ’n groot koolstoof gehad waarin ons aan die een kant kon vuur maak en aan die ander kant was die oond. Maar ons moes van dit alles ontslae raak toe ons trek. Baie van die goed is agtergelaat omdat ons dit nie kon saamvat nie.
Ons het aan die Ou Apostoliese Kerk behoort en elke Sondag het ons met die donkiekar na Riebeek-Wes toe gery vir kerk. Die ouer kinders het langs die kar geloop, terwyl die kleiner kinders saam met Ouma Sara en Oupa Piet op die kar gesit het.
Die skool het om agtuur begin en as jy die huis eers tien voor agt verlaat het, dan moes jy hardloop, want Mnr Damon het by die hek gestaan en wag met ’n lat.
Ons was te veel kinders in die huis en geld was skaars, so ons kon nie bekostig om voltyds skool te gaan nie. Teen standard twee of drie moes ek uit die skool uit gaan om saam met my oupa te gaan hout haal. Al die ouer kinders moes dit doen. Dit was net die jongstes wat standerd vyf kon klaarmaak.
As ek terugkyk, dan was dit lekker dae in die ou lokasie. Ons was gelukkig om daar te kon bly. Ons het veilig gevoel. Ons kon alleen na die winkels toe loop. Niemand het jou gepla nie.
Ek onthou dat my oupa baie kwaad en teleurgesteld was toe hy vir die eerste keer gehoor het ons moet trek. Hy moes meeste van sy diere geslag het, en in daardie dae het ons nie vrieskaste gehad om die vleis te stoor nie, so daar was geen manier om dit te hou nie. Hy het die donkies en die varke aan die boere verkoop.
Ons donkies was reeds verkoop teen die tyd wat ons moes trek, so ons het net die donkiekar gehad. Ons het alles op die kar gepak en al die kinders moes dit van Oukloof na Esterhof afstoot. Dit was ’n twee kilometer stap gewees.
Ons was van die eerste klomp gesinne wat afgetrek het. Nadat die eerste fase huise gebou is, is die mense aangesê om af te trek. Toe ons aftrek het al die mense langs mekaar gebly in die eerste straat soos jy Esterhof inkom. Daar was net grondpaaie en dit was baie stil hier. Daar was geen elektrisiteit nie, maar daar was ook nie elektrisiteit in Oukloof nie. Ons moes water buite in straat by ’n kraan gaan haal. Die huis waarin ons getrek het het vier vertrekke gehad, maar dit was nie so ruim as die Oukloof-huis nie.
Ek kon sien dat my grootouers nie gelukkig was oor die trek nie, maar hulle moes dit maar net aanvaar. Daar was niks wat hulle kon doen nie. Die oumense kon nie eintlik terugpraat in daardie dae nie. Daar was ’n paar wat probeer het om terug te praat en geweier het om te trek, maar dit het nie gehelp nie. Die witmense het nie geluister nie. Hulle het gemaak wat hulle wou en ons moes maar net inval met wat hulle besluit het.