Maria Valentyne

Plot 42

Maria Valentyne was bekend as die vroedvrou van Oukloof. Sy was die vrou wie almal, insluitend die witmense, geroep het om te help babas vang.

Maria Valentyne was die ouma van Lydia van der Merwe (née Afrika) en die oumagrootjie van Francis Quintini (née Afrika).

Volgens die familie kon Maria Valentyne Engels praat en het na ’n Engelse sendingskool gegaan. Sy het in die vroeë 1900s met John Valentyne getrou. John was ook hoogsgeletterd vir ’n bruinman van daardie era. Hy het blykbaar skool tot standerd tien klaargemaak, maar terwyl hy gewag het vir ’n onderwyspos het hy op die plase gaan werk. Francis Quintini onthou wat haar oorlede ouma, Fransina Afrika, vir haar vertel het. “Terwyl John op die plaas gewerk het, het hy begin drink en nadat hy een keer erg deur die boer geslaan is, was hy in ’n slegte toestand toe hy by die huis aankom.” Fransina Afrika, wat toe maar net ’n jong meisie was, het haar ma by die plaashuis gaan roep om John te kom help. John is ’n paar dae later dood. Die boer het die ma en dogter van die plaas af gegooi.